0118153000 info@lefra.com

Suksesverhaal

Van ‘n baie klein begin, is Lefra, onder leiding van Frans Swart, vandag ‘n belangrike speler in die vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika, sowel as in die promosie- en openbare betrekkinge gebied. Lefra was op die voorgrond om Afrikaanse teater in Suid-Afrika te laat herleef met suksesvolle produksies wat heelwat rekords laat spat het. Lefra se Afrikaanse weergawe van Rob Becker se Defending the Caveman, in Afrikaans as Groet die Grotman (regisseur Sandra Prinsloo, 2005), hou steeds die rekord as die Afrikaanse produksie wat die langste en meeste aantal opvoerings in Suid-Afrika gehad het, met meer as 1,000 vertonings oor tien jaar! Na Groet die Grotman volg die suksesvolle Groet die Grotvrou (regisseur Vanessa Frost, 2008) en Groet die Grotoupa (regisseur Lizz Meiring, 2010). In 2019 skryf Frans self die opvolg Groet die Grotman 2, waarvan hy ook die regie behartig.

Lefra vervaardig ook ander een-persoon-produksies oor die jare, en speel landwyd met hiermee en toer landwyd met hierdie produksies. Paul Lückhoff skitter in Oom Schalk Lourens se Mampoerstories (2015), en Cobus Venter bring ‘n lag en ‘n traan in My Pa (2016). Johny Klein bring die Sandveld en sy mense na die verhoog toe in Frans se verwerking van Ferdinand Deist se verhale in die produksie Die Pomporrelkonsert (2019). Johny was ook te sien in die musiekproduksie Flennie die Snare (2017) saam met Chris Chameleon, Anna Davel, Daniella Deysel en ‘n volle orkes onder leiding van musikale regisseur Jaconell Mouton, waarin hy ‘n magdom van Boerneef se karakters vertolk het. Frans het self die verwerking en regie vir die produksie behartig. Ander musiekproduksies sluit die juweel As Drome Vlerke Kry (2015) in, met Hennie Smit en Arina de Witt. In 2019 bring Helene Bester hulde aan die ikoniese Griekse sangeres Nana Mouskouri in die produksie Helene Bester sing Nana Mouskouri wat tydens Lefra se jaarlikse Oppiwater Kunstefees aanboord die MSC Musica bekendgestel is.

Ander suksesverhale sluit in sluit die ongelooflike mooi produksies van Dalene Matthee se Fiela se Kind in, wat vir uitverkoopte teaters in 1997 (regisseur Frans Swart), 2007 (regisseur Sandra Prinsloo) en 2017 (regisseur Frans Swart) gespeel het. Na die eerste Fiela-produksie in 1997 op die planke gebring is, skryf Dalene Matthee vir Frans in ‘n FIELA-boek: “Dankie vir al jou moeite met Fiela – ek weet een ding – sy’s in knap en goeie hande”.

Lefra bied sedert 2012 elke jaar ‘n splinternuwe klug aan en is voorwaar die voorloper in die genre in die land. Lefra is al die “klugkonings” van die land gedoop – ‘n titel wat Lefra met groot respek dra. Meer as 70 van Suid-Afrika se voorste akteurs speel oor die jare in die klugte. Daar was Tobie Cornjè en Hannes Muller in My Vrou se Man se Vrou (2012) en Chris van Niekerk en Amalia Uys in My Vrou se Man se Lyk se Tas (2013). Dis die eerste keer dat Botha Enslin in een van Lefra se klugte verskyn, maar nie die laaste keer nie. In 2014 is hy saam met onder andere David Rees, Hennie Smit en Cindy Swanepoel in My Boetie se Sussie se Ou en in 2015 saam met Cobus Venter en Marga van Rooy in My Boetie se Boetie se Baba. In 2016 se Daa’ Gaat die Bruid! speel Gert van Tonder en Lieb Bester saam ‘n uitsoekgeselskap die verhoog aan die brand. 2017 se My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou spog met die talente van onder andere Zak Hendrikz en Rouel Beukes, en maak Cindy Swanepoel haar tweede verskyning in ‘n Lefra-klug – beslis ‘n voorlooper van haar baie suksesvolle rol in Binnelanders, In 2018 is Cobus Venter terug in My Vrou se Man se Mannetjie saam met Edrien Erasmus en Paul Lückhoff, beide se tweede verskyning van ‘n Lefra-klug. In My Oom se Vrou se Plekkie in 2019 sien ons Elma Potgieter saam met Marissa Claasen en Ana van Achterbergh op die verhoog. In 2020 besluit Lefra om weer My Vrou se Man se Vrou aan te bied met onder andere Botha Enslin en Phillru van Achterbergh in die hoofrolle.

Lefra bied sedert 2014 jaarliks hulle eie unieke kunstefees aan: die Oppiwater Kunstefees. Die kunstefees is uniek in die sin dat dit die enigste volwaardige kunstefees in die wêreld is wat op ‘n passasierskip aangebied word, en sluit jaarliks die room van Afrikaane drama, musiek en komedie in.

Lefra is ook bekend vir hulle musiekkonserte wat hulle anbied, waaronder die Afrikaanse Musiekfees (terloops ook die voorloper van talle ander musiekfeeste wat sou volg), Country Legendes en Vriende, die Hallelujah Gospelfees en die Kersfees Skouspel-konserte, wat jaarliks ‘n internasionale gas insult. In 2018 maak die Belgiese superster Dana Winner haar verskyning as gaskunstenaar by die feestydkonsert, en in 2019 is dit die berut van Leo Sayer. Lefra het in 2008 Dana Winner se uitgebreide Suid-Afrikaanse toer aangebied, en is ook welbekend as die mense agter die Britse supergroep Smokie se Suid-Afrikaanse besoeke. Lefra bring heelwat internasionale groepe en kunstenaars na Suid-Afrika soos onder andere Boney M, die internasionale ABBA “tribute” groep, Dana Winner, Leo Sayer, Foster and Allen en vele meer.