Teaterproduksies

Dinner For One (ook bekend as The 90th Birthday), wat op TV nou al ‘n Oujaarstradisie is, het in Duitsland kultusfliek-status gekry nadat dit in 1963 in Hamburg verfilm is. Dié uiters snaakse roomtertkomedie speel af in ‘n eeue-oue Britse herehuis, waar die laaste oorblywende lid van die familie, Miss Sophie, haar 90ste verjaardag vier. Die hele skets vind in die eetkamer plaas, met Miss Sophie aan die koppenent van die tafel, en daar is vir haar ‘gaste’ – wat almal al dood is – plekke gedek. Die butler, James, moet vir die gaste ‘n viergang-maaltyd bedien – en daar is vir elke gang ‘n drankie! Aangesien nie een van die gaste behalwe Miss Sophie in ‘lewende lywe’ daar is nie, dring Miss Sophie daarop aan dat James elke gas se rol moet speel (en dus al sy drankies ‘namens’ hom moet drink). “Same procedure as every year, James.” Hoe later, hoe kwater, en James raak al hoër in die takke … en die spanning loop al hoe hoër elke keer as James nóg ‘n rondte om die tafel oorleef sonder om oor die “kop” van die tiervelmat te val.
En as ‘n bonus is daar ook Sopper vir Een – die Suid-Agrikaanse “spoof”!

Dit is vyftien jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle? Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte. Die verskille tussen mans en vrouens is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vrouens van Venus. In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vrouens op komiese wyse uitgebeeld deur Grotman Phillru van Achterbergh. Vrouens is steeds
die gaarders (veral van nuttelose inligting!) en mans steeds die jagters (van ‘n bok tot ‘n televisieprogram). “Mans en vrouens lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak” sê skrywer en regisseur Frans Swart.
“Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ‘n komiese wyse. Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies.”

Helene Bester bring in haar produksie – Helene Bester sing Nana Mouskouri – hulde aan die ikoniese Griekse sangeres. Die teks en regie word hanteer deur Frans Swart van Lefra Produksies en musiekregie is te danke aan Heinrich Pelser.
“Ek het nog altyd daarop gehoop om ‘n Nana-vertoning te doen. Ek is so mal oor haar stem en ek en my sussie het met haar musiek groot geword” vertel Helenè. “Ons het regtig gedink dat sy ‘n vriendin is van my ma. My ma en sy lyk so eenders. Tog dink ek dat die tyd nou eers ryp is vir my om die vertoning te doen. Ek glo nie dat ek hierdie musiek so goed sou kon interpreteer 10 jaar terug nie. My stem is ook ouer en klink dalk meer volwasse, wat ek glo meer by haar teikengehoor aanklank vind.”
Ek’t haar musiekvideo’s “opgeswot” om te kyk hoe sy beweeg op die verhoog, wat sy met haar hande doen en hoe sy ‘n gehoor aanspreek. Mens wil dit tog so geloofwaardig moontlik maak. Regisseur Frans Swart stem saam: “Toe Helenè my oor hierdie projek nader, was ek dadelik opgewonde. Wie dan nou beter as die talentvolle Helenè om hulde te bring aan die tydlose en elegante Nana Mouskouri?”

Die jongspan kan nader skuif, want Liewe Heksie en haar kaboutermaats keer terug na die Atterburyteater in Pretoria! Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels het kort voor haar dood ‘n splinternuwe storie spesiaal vir Lefra Produksies geskryf.
Voor pouse word Liewe Heksie en Botterblom opgevoer. Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf. Maar Botterblom is kwaad. Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam. Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans. Na pouse is dit dan Liewe Heksie en die Tuindwergie, waar ons Casper die tuindwerg ontmoet toe hy een oggend in Heksie se tuin wakker word. Maar wie kruip daar agter ‘n boom weg? Is dit die nare gifappeltjies?

Ray Cooney is ’n meester van die klug. Sy Run for your Wife speel al langer as 30 jaar in Londen se West End en Peet van Rensburg het ’n wonderlike Afrikaanse vertaling gedoen in My Vrou se Man se Vrou. Die oorspronklike stuk, Run for your Wife, hou die rekord vir die langs-lopende klug op Londen se West End en het ook rekords in Suid-Afrika laat spat. Die hoofkarakter in My Vrou se Man se Vrou is John Smith, ’n Londense taxibestuurder wat saam met sy vrou Mary in Highgate woon … en ook met sy vrou Barbara in Finchley, net vier minute uitmekaar. Natuurlik is die twee mevroue Smith salig onbewus van mekaar se bestaan, aangesien John sy ongereelde werksure gebruik as ’n verskoning om sy dubbele lewe weg te steek. Maar ’n ongeluk en ’n verkeerde adres veroorsaak ’n kettingreaksie en John moet bontstaan om te keer dat sy geheim op die lappe kom! En om sake te vererger, moet hy sy nuuskierige bure, ’n vasberade joernalis en twee agterdogtige polisiemanne ontduik.