Tuis / Produksies

Produksies

Teaterproduksies

Teater

Van skaterlag-klug tot huldeblyk en drama — die produksies waarmee Lefra jaarliks landwyd toer.

My Boetie se Sussie se Ou

My Boetie se Sussie se Ou

My Boetie se Sussie se Ou – Phillru van Achterbergh, Botha Enslin, Marissa Claasen, Danielle Britz, Nico Loubser, Stefan Lötter en Nikita Meyer As jy dink jou lewe is ingewikkeld, plaas jouself vir ‘n oomblik in John Smith se skoene, daardie taxi-bestuurder van My Vrou se Man se Vrou met twee vrouens, en nou ook twee gesinne! Dis reg, in My Boetie se Sussie se Ou is dit agtien jaar later en hou John steeds twee families in verskillende dele van Londen aan, beide dolgelukkig en salig onbewus van mekaar. Maar wanneer sy twee tieners, ‘n dogter van die een gesin en ‘n seun van die ander, mekaar op sosiale media raak gesels en angstig besluit om mekaar in die persoon te ontmoet, versnel John se reeds gejaagde lewe tot in die hoogste rat, en moet hy spook om hulle uitmekaar te hou. Klug op sy beste!

Lees Meer
Dinner for One / Sopper vir Een

Dinner for One / Sopper vir Een

Dinner For One (ook bekend as The 90th Birthday), wat op TV nou al ‘n Oujaarstradisie is, het in Duitsland kultusfliek-status gekry nadat dit in 1963 in Hamburg verfilm is. Dié uiters snaakse roomtertkomedie speel af in ‘n eeue-oue Britse herehuis, waar die laaste oorblywende lid van die familie, Miss Sophie, haar 90ste verjaardag vier. Die hele skets vind in die eetkamer plaas, met Miss Sophie aan die koppenent van die tafel, en daar is vir haar ‘gaste’ – wat almal al dood is – plekke gedek. Die butler, James, moet vir die gaste ‘n viergang-maaltyd bedien – en daar is vir elke gang ‘n drankie! Aangesien nie een van die gaste behalwe Miss Sophie in ‘lewende lywe’ daar is nie, dring Miss Sophie daarop aan dat James elke gas se rol moet speel (en dus al sy drankies ‘namens’ hom moet drink). “Same procedure as every year, James.” Hoe later, hoe kwater, en James raak al hoër in die takke … en die spanning loop al hoe hoër elke keer as James nóg ‘n rondte om die tafel oorleef sonder om oor die “kop” van die tiervelmat te val. En as ‘n bonus is daar ook Sopper vir Een – die Suid-Agrikaanse “spoof”!

Gé Sing: Hoor my Lied!

Gé Sing: Hoor my Lied!

Dis vanjaar 25 jaar sedert die legendariese stem van Suid-Afrika se eerste ware superster, Gé Korsten, vir altyd stil geword het, en sy lewe, loopbaan en fenomenale talent word gevier in Frans Swart se huldeblykproduksie, Gé Sing: Hoor My Lied! Frans Swart, regisseur van Gé Sing: Hoor My Lied sê dit is vir hom ‘n besondere groot voorreg om hulde te bring aan hierdie ikoniese sanger en kunstenaar. “As daar ooit ‘n superster in Suid-Afrika was, dan was dit Gé! Ek was bevoorreg om Gé persoonlik te kon geken het, want as jong kameraman by SAUK-TV, was ek kameraman vir ‘n paar seisoene van die gewilde TV-program, Gé Sing. Daarna het ons baie goeie vriende geword en het ek die mees ongelooflike respek vir hierdie kunstenaar ontwikkel. Hy was nie net sanger nie, maar hy was ‘n mentor vir soveel mense in die bedryf. Hy was gesinsman, adminstrateur, vriend, akteur, sanger, orator, vegter vir die opera en legende!” In die produksie Gé Sing: Hoor My Lied word oudiovisuele argiefmateriaal teen ‘n skerm geprojekteer om die gehoor ‘n oorsig oor sy werk te gee, asook insigte oor Korsten as kunstenaar, mens en vader te bied. Sy musikale nalatenskap word op ‘n vars manier herinterpreteer deur van die land se voorste kunstenaars: André Schwartz, Louis Loock, Arina de Witt en Stephanie Baartman. Die produksie spog met ‘n volle orkes onder leiding van musikale regisseur, Chanie Jonker. Die regie en teks deur Frans Swart.

Groet die Grotman 2

Groet die Grotman 2

Dit is vyftien jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle? Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte. Die verskille tussen mans en vrouens is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vrouens van Venus. In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vrouens op komiese wyse uitgebeeld deur Grotman Phillru van Achterbergh. Vrouens is steeds die gaarders (veral van nuttelose inligting!) en mans steeds die jagters (van ‘n bok tot ‘n televisieprogram). “Mans en vrouens lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak” sê skrywer en regisseur Frans Swart. “Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ‘n komiese wyse. Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies.”

Die Pomporrelkonsert en ander Sandveldstories

Die Pomporrelkonsert en ander Sandveldstories

Soos ’n bontspul vygies wat in ’n dorre Sandveldse landskap uitbars, so kleurryk is die mense wat hierdie streek aan ons land se Weskus hul tuiste noem. Sommige groots soos hul omgewing, of klein en dwaas soos mense ook maar is. Botha Enslin bring ’n keur van gewilde kontreistories, geskryf in tipiese streekstaal wat handel oor ’n unieke wêreld en sy mense, na die verhoog toe in Die Pomporrelkonsert. Daar is “Oompie Paul se groot nood”, “Die dood vannie founmannetjie” en “Die oorbesige prekkereer” wat begin: “Kyk, ek weet nou nie of jy die storie ken vannie moles wat daar die keer innie hemel gewees ‘t toet Petrus die duiwel wel gedagvaar ‘t nie…” “Ons ontmoet ook vir Pensie, nurse Drientjie van Schalkwyk, Tanta Anna, sy met die wye tande, en natuurlik Dirk Ligter, die nimlike hy…”, sê Botha, wat in die produksie lewe gee aan meer as 30 karakters. “Botha Enslin is ’n meester van karakterisering”, sê regisseur Frans Swart. “Hierdie man kan net met ’n draai en ’n beweging vir jou die volgende karakter gee. Hy is ongelooflik talentvol.”

Helene Bester sing: Nana Mouskouri

Helene Bester sing: Nana Mouskouri

Helene Bester bring in haar produksie – Helene Bester sing Nana Mouskouri – hulde aan die ikoniese Griekse sangeres. Die teks en regie word hanteer deur Frans Swart van Lefra Produksies en musiekregie is te danke aan Heinrich Pelser. “Ek het nog altyd daarop gehoop om ‘n Nana-vertoning te doen. Ek is so mal oor haar stem en ek en my sussie het met haar musiek groot geword” vertel Helenè. “Ons het regtig gedink dat sy ‘n vriendin is van my ma. My ma en sy lyk so eenders. Tog dink ek dat die tyd nou eers ryp is vir my om die vertoning te doen. Ek glo nie dat ek hierdie musiek so goed sou kon interpreteer 10 jaar terug nie. My stem is ook ouer en klink dalk meer volwasse, wat ek glo meer by haar teikengehoor aanklank vind.” Ek’t haar musiekvideo’s “opgeswot” om te kyk hoe sy beweeg op die verhoog, wat sy met haar hande doen en hoe sy ‘n gehoor aanspreek. Mens wil dit tog so geloofwaardig moontlik maak. Regisseur Frans Swart stem saam: “Toe Helenè my oor hierdie projek nader, was ek dadelik opgewonde. Wie dan nou beter as die talentvolle Helenè om hulde te bring aan die tydlose en elegante Nana Mouskouri?”

Liewe Heksie

Liewe Heksie

Die jongspan kan nader skuif, want Liewe Heksie en haar kaboutermaats keer terug na die Atterburyteater in Pretoria! Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels het kort voor haar dood ‘n splinternuwe storie spesiaal vir Lefra Produksies geskryf. Voor pouse word Liewe Heksie en Botterblom opgevoer. Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf. Maar Botterblom is kwaad. Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam. Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans. Na pouse is dit dan Liewe Heksie en die Tuindwergie, waar ons Casper die tuindwerg ontmoet toe hy een oggend in Heksie se tuin wakker word. Maar wie kruip daar agter ‘n boom weg? Is dit die nare gifappeltjies?

Vlerksleep

Vlerksleep

Volgens die woordeboek beteken “vlerksleep” om by ’n meisie aan te lê, soos wat die voëls (veral duiwe) hul vlerke sleep om die wyfies se aandag te kry vir so ’n ietsie lekkers! In hierdie komedie ontmoet ons vir Richard en Julia, albei in hul laat 50’s. Onlangs geskei. Beide is nou in die proses om te begin kyk na nuwe metgeselle deur op ’n aantal toe-oë-afsprake te gaan. Volg dié twee se eskapades deur ’n reeks onverwagte, eienaardige en wisselvallige romantiese probeerslae waar absoluut niks volgens plan verloop nie.

Koos Doep

Koos Doep

“Trek my liedjies uitmekaar uit en skryf oor hulle,” het Koos du Plessis gesê, “maar los my uit . . . ek is ’n doodgewone ou.” Koos Doep, soos hy in die volksmond bekend staan, sou in 2025 sy 80ste verjaarsdag gevier het. En tog, ’n goeie 40 jaar ná sy dood as daar gepraat word van “Koos”, dan weet bykans enige persoon van wie daar gepraat word en daar is dadelik ’n klomp treffers wat by ’n mens opkom, waaronder “Sprokie vir ’n stadskind”, “Kinders van die wind”, “Gebed” en “As almal ver is”. Dit is die omvang van Koos du Plessis se bekendheid en sy invloed op Afrikaans en Afrikaanse musiek. Waarom dit so is, is die onderwerp van menige debat, partykeer in die lesingsale van universiteite, maar meestal in die middernagure, met ’n “Kinders van die wind” of ’n “Skielik is jy vry” wat iewers in die agtergrond speel. Natuurlik met ’n goeie bottel rooiwyn, Koos Doep se gunstelingdrankie.

Het van Verlangekraal

Het van Verlangekraal

Het Heiberg. Die weggooikind wat Verlangekraal se naam sou verewig. Sy het dit gewaag om in opstand te kom teen ’n rigiede skoolsisteem wat geen rebelsheid of individualiteit sou duld nie.

‘n Skatkis uit ons musiekverlede

‘n Skatkis uit ons musiekverlede

Stephanie Baartman, deesdae baie bekend as Lettie in Diepe Waters, delf in die skatkis van ons musiek-verlede. Kom beleef die verlede se treffers met ongelooflike nostalgie.

Die Dood van die Founmannetjie

Die Dood van die Founmannetjie

Soos ’n bontspul vygies wat in ’n dorre Sandveldse landskap uitbars, so kleurryk is die mense wat hierdie streek aan ons land se Weskus hul tuiste noem.

Skaterlag met Andrè, die Skreeusnaakse Hipnotiseur

Skaterlag met Andrè, die Skreeusnaakse Hipnotiseur

Verhooghipnose in Suid-Afrika is sinoniem met André – die skreeusnaakse hipnotiseur. André tree al die afgelope drie dekades dwarsdeur Suid-Afrika op, en vermaak gehore steeds met sy skaterlag-vertonings landwyd! As jy braaf genoeg is en ‘n bok vir sports is, kom wees een van André se vrywilligers om onder hipnose te gaan en van sy vertonings naby jou! In Skaterlag met Andrè steel ons gunsteling hipnotiseur onder andere sy vrywilligers se vinger nommer vyf, en hulle word ook wasmasjiene op wasdag! Sal jy heerlik aan ‘n ui eet en dink dis ’n appel? Sy vrywilligers doen! Kom kyk ook hoe word vrywilligers bekende sangers soos Steve Hofmeyr of Juanita du Plessis en vele meer pret.

Televisie

Televisie

Lefra se werk vir die kleinskerm — van kompetisieformaat tot uitsaai.

Revue!

Revue!

Lefra Produksies se nasionale revue-kompetisie is terug vanjaar! REVUE is ‘n opwindende kompetisie waaraan laer- en hoerskole deelneem om sake uit te spook om die titel van Beste Revue. Suid-Afrikaanse skole het revues tot ‘n unieke en gewilde genre ontwikkel wat baie vermaaklike produksies ontwikkel het. Die revues word beoordeel op die kwaliteit van die sang, dans, musiek, kostuums, tema en veral die vermaaklikheidswaarde. Geniet Suid-Afrika se top revues in REVUE! Volgens Frans Swart, besturende direkteur van Lefra, het die kompetisie sedert 2016 gegroei tot een van die grootste revuefeeste in die land, waar skole nie net meeding nie maar ook leer, netwerk en hul produksies ’n langer leeftyd gee; dit het reeds talent soos Joshua Ziervogel en Dodo Nyoka help ontgin. Revue word op VIA uitgesaai.

Radio

Radio

Waar kos, kuier en karakter agter die mikrofoon saam prut.

Frans Kook

Frans Kook

Frans Kook is ’n unieke radiokonsep waar die bekende teaterman, radio-omroeper, regisseur, skrywer en vervaardiger Frans Swart, sy liefde vir kosmaak agter die mikrofoon uitleef. Hy is ‘n uithalerkok en kosmaak bly vir hom ’n passievolle stokperdjie – een wat hy sedert 2015 omskep het in ’n gewilde, gesindikeerde radioreeks wat landswyd op verskeie radiostasies uitgesaai word. Hierdie lekker, kort insetsels van net 5 tot 6 minute bied ’n smaaklike weeklikse spyskaart: Maandae se vinnige kitskos, Dinsdae se bekendes wat kom kosmaak, Woensdae se Frans-gunsteling, Donderdae se wyn- en kospraatjies saam met wynmeester Bennie Howard, Vrydae se luisteraarresepte en Saterdae se gesellige naweekbraai. Frans Kook is waar kos, kuier en karakter saam prut in een heerlike radioreeks.

Kuns

Kuns

Waar kreatiwiteit, verf en die self mekaar ontmoet.

Skilder en Wyn met Hannelie Swart

Skilder en Wyn met Hannelie Swart

Hannelie Swart, wat ‘n Meestersgraad in die Visuele Kunste het, sê dat Skilder en Wyn ‘n unieke ervaring is. “Hierdie is nie ‘n kunsklas nie, maar eerder die ontdekking van die self. Ek gee nie vir ons deelnemers ‘n prentjie en dit moet oor geteken word nie. Ek glo vas aan die helende aspek van kuns, en as jy jouself wil bederf met tyd en kreatiwiteit moet jy Skilder en Wyn kom bywoon. Omdat deelnemers deur die interaksie met verf jou self tyd gee vir self-kennis, self-verryking, en in aanraking met jou onderbewuste kom. Daar kom ’n bewustheid van wie jy eintilik is.” Swart sê dat die proses is baie belangriker as die eindproduk. “Ek begin eers met ‘n oefening om die kreatiwiteit aan te skakel en dan sal daar riglyne wees oor ‘n tema wat ons gaan skilder. Ons werk heeltemal outomaties wat beteken ek gebruik tegnieke en ons mors lekker met verf, waar ons van uit die onderbewuste merke op die doek maak met ink en verf en vandaar oorgaan na die tema.”

Feeste

Feeste

Lefra se eie kunstefeeste — op die water en op die land.

Oppiwater Kunstefees

Oppiwater Kunstefees

Die Oppiwater Kunstefees is ‘n unieke drywende kunstefees wat jaarliks aan boord van ‘n luukse passasierskip in Suider Afrikaanse waters gehou word, waar teater, musiek, komedie, opera en dans gevier word! Die fees, wat aangebied word op skepe wat deur MSC Cruises bedryf word, bied aan passasiers die geleentheid om ’n luukse bootvaart te bespreek en ‘n volle program van opvoerings te geniet terwyl hulle van ‘n Suid Afrikaanse hawe na bestemmings soos Namibië en Mosambiek en terug reis. Geskep deur ‘n samewerking tussen RSG en Lefra Produksies, vier die Oppiwater Afrikaanse kuns en kultuur in ’n lewendige en luukse omgewing met die beste vermaak en kos in ‘n unieke feeservaring op die see.

Oppiland Kunstefees

Oppiland Kunstefees

‘n Kultuurfees wat gewoonlik oor ’n naweek by ’n bestemming in Gauteng aangebied word. Die fees bied ’n verskeidenheid lewendige musiekoptredes deur talle kunstenaars, saam met ’n groot vlooimark, kuns- en kosstalletjies, asook vermaak vir die hele gesin. Met sy ontspanne atmosfeer en fokus op Afrikaanse kultuur, lok Oppiland jaarliks feesgangers wat op soek is na goeie musiek, lekker kos en ’n saamkuier-naweek in Gauteng.